Ek ‘probeer’ kook!

‘n Voorskoot…. ‘n gewone swart voorskoot met 2 “eenvoudige” woorde in wit – EK KOOK! Wat as jy nie kan kook nie, wat sal jy dan op die voorskoot sit, of sal jy dieselfde voorskaat dra en net die klein mannetjie wat op jou skouer sit en skreeu “jy kan nie kook nie” met jou vadoek toe gooi… nes ‘n pro!

Wel, ek kan nie kook nie. Of dalk kan ek…. dalk is ek nog SA se Gordon Ramsey of Jamie Oliver! Miskien moet ek liewer se ek het nog nooit rerig probeer nie – die lewe is maar ‘n gejaag en daar is nie altyd tyd nie. “Wat van naweke?” vra jy – wel ja, daar is geen verskoning as dit by naweke kom nie, maar naweke gryp jy sommer wat in die yskas is… en as jy nie lus is vir dit nie, dan is jy nie honger nie (soos my ma altyd sê). 

Miskien oordryf ek so bietjie, miskien moet ek liewer se dat as ek ooit eendag op my eie moet wees dat ek nie sal honger ly nie… en ek sal self iemand kan oornooi vir ontbyt, want ontbyt maak kan ek! Ek kan darem ‘n resep ook volg, so dit beteken darem ek kan bak ne? So dan kan ek mos kook, as ek ontbyt kan maak (want dis die belangrikste maal van die dag) en ek het ‘n lekker sny tuisgemaakte sjokolade koek vir nagereg dan KOOK ek mos – letterlik en figuurlik!

EK dink ek gaan nou dadelik die ‘klein mannetjie’ op my skouer oornooi en kyk of die duiwel kan kook, want my uithaler-sjokolade koek staan gereed!

MD x

Die woord waaraan jy swaar dra…

WINTER is stadig maar seker besig om sy weg na ons te vind….. dit is onmoontlik om soggens die huis te verlaat sonder iets “oor die skouers” – soos ouma sal sê!

Nes winter is daar ook iets anders aan die kom….. die GROOT eet! Is dit net ek of word mens se eetlus net groter hoe kouer dit word? Wat is dan nou lekkerder as peusel… ek meen rerig – dis lekker as ‘n mens se kake beweeg. Mens kry sommer warmer.

Dan is daar ook die warm drankies voor slapenstyd……… dit is nou net klein duiweltjies wat op jou heupe gaan sit! Mens dra gewoontlik swaar aan hulle – letterlik en figuurlik!

Winter is darem nie net koud, grys, vet en vreterig nie…. dit gee die hart ook so halwe ruskans. Mens is meer ontspanne en lê eerder op die bank onder ‘n kombers (met popcorn) en movies kyk… ja die rondhardloop van die somer is nodig, maar die rus van die winter is medisyne vir die gees en vlees.

Hou op skuldig voel as jy besluit om bietjie “in-te-bly” oor die naweek… le op die bank, loop rond in jou pj’s, gly oor die kombuis vloer met jou sokkies en kyk drie movies agter-mekaar!

Die koue-seisoen hoef nie noodwendig grys te wees nie!!

Madonna Rose x

…vat my terug na die begin!

Wie is Madonna Rose? As jy ‘n bloed-rooi-krul-kop-alter-ago geraai het, is jy waarskynlik reg!

Madonna Rose… die alter-ego! Die een wat ‘n klein boetiek winkeltjie in Marbella wil besit, die een wat op tafels wil dans en al te gemaklik om ‘n paal kan swaai en draai, die een met die groot bos rooi krulle wat altyd net kaalvoet wil loop… wie sy ook al is, sy is vrou, vriendin, dogter, niggie, vyand en dromer!

Ek moet bieg, sy het nie rerig rooi hare nie en sy is te skaam om op tafels te dans, maar as sy kon, ooo dan sou sy. Sy sou baie dinge gedoen het, maar dis beslis ‘n storie vir ‘n ander dag……. ‘n baie opwindende storie moet ek by sê!

Kom deel in haar drome, haar musiek en haar liefde vir woorde… kom gesels saam, kom deel ouma se resepte, kom gee raad oor gebreekte naels en harte, kom lag, lees, luister en leéf!

Tot sy weer kom inloer!
Madonna Rose x